Geskiedenis van Moorreesburg

Moorreesburg is gestig op die plaas Hooikraal, staatsgrond wat in 1939 deur die destydse goewerneur aan die Kaap, Sir George Napier, as ewig durende erfpag gegee is aan Tobias Lochner. Moorreesburg, vernoem na ds JD le Febré Moorrees, leraar in die Swartland vanaf 1834 tot 1879, het in 1898 dorpsstatus verkry en munisipalestatus in 1909.

Die eerste boere wat in Moorreesburg omgewing begin boer het, was Jan van Zyl en Klaas Hendrik Diepenouw, setlaars uit Nederland in 1709 . ‘n Paar jaar later, in 1715, het ‘n Franse Hugenoot, met die van Hugo hom hier kom vestig op die plaas Leeuenkuil. Die oudste plaas in die omgewing is Swartberg. Koringboerdery is die hoof boerdery-aktiwiteit maar canola, lupiene, skape en beeste vorm deel van hierdie uiteenlopende boeregemeenskap se boerderybedrywighede.

GESKIEDENIS VAN SWARTLANDSKOU

Die Swartlandskou het ontstaan as ‘n klein samekoms van boere in die omgewing wat idees uitgeruil het oor saaimetodes en hoe om beter oesresultate te verseker. In die twintigerjare is die eerste skoubyeenkoms van perde in Hooikraal, noord van Moorreesburg gehou. Die terrein het later te klein geword en is in 1933 as die Moorreesburg Skouvereniging verskuif na die ou amptelike skougronde, oos van Rosenhof by die Piketberg-ingang. Daar was weinig geriewe en ‘n pawiljoen is opgerig met die kombuis en eetsaal daaronder. Vertoners het self sinkplaat stalle opgerig en die pluimvee-, vark-, skaap- en beesafdelings saamgeflans.

Diere wat geskenk is vir die skou was deur die mansgeslag en deur die vroue verwerk. In die buite kombuis was houtstowe waarop alle kosse gaar gemaak en brood en roosterkoek gebak was. Hier was dit warm en is baie hard gewerk.

Die kroeg was onder die bloekombome. Die huisvlytafdeling was in ‘n klein geboutjie en die dames het destyds baie sterk teen mekaar kompeteer met ‘n hele jaar se insette. Van verskillende soorte tuisgemaakte seep tot plaasprodukte, die ligste pasteideeg en netjiesste naaldwerk- te veel om te noem. Baie dames moes hier punte verwerf vir hul beoordelaarsertifikate as gevolg van die hoë standaarde waaraan hierdie huisvlytafdeling gekoppel was. Die VLV het hierdie gesogte afdeling in samewerking met die skou aangebied.

Jare gelede het Ben Mostert met 80 trekperde na die skou gekom, Koos du Toit met 30 perde en Frikkie Serdyn met twee spanne muile plus nog heel wat ander deelnemers – almal plaaslik. Vandag is daar min plaaslike deelnemers en die voedingsbron is meestal van buite. Die perde-afdeling was ‘n miernes van bedrywighede en die klasse is aangekondig met die klap van ‘n sweep.

Dit was nie ongewoon om agt wa-spanne en tienwa-spanne met muile op die Moorreesburgskou te sien nie. In die vroeë dertigerjare tot die laaste vyftigerjare was trekdiere volop op plase gebruik. Die koms van meganisasie het die trekperd getalle sodanig laat afneem dat dit vandag uitsonderlik is om ‘n wa-span van agtperde op die skou te sien -‘n tradisie wat met alle mag aangemoedig en vertroetel moet word.

Huidige skougronde
In 1970 het Gemeenskapbou die ou skougronde te Rosenhof aangekoop vir die aanbou van ‘n skool, wat nooit gerealiseer het nie. Die huidige skougronde is aangekoop en daar is dadelik begin beplan en gebou. In die jare sewentig het die Malmesbury skou doodgeloop as gevolg van die verkoop van hul skouterrein. ‘n Afvaardiging van Moorreesburgskou het ampsdraers van Malmesbury gaan spreek om die gemeenskappe byeen te bring en een groot skou aan te bied. Samesprekings was positief en daar is besluit om die naam Moorreesburg Skougenootskap te verander na Swartlandskou (Moorreesburg) sodat die hele Swartland later geakkommodeer kan word. Malmesbury het later egter weer begin met ‘n eie skou en die beplanning vir ‘n gesamentlike poging het deur die mat geval.

Die uiteindelike groei van Swartlandskou Moorreesburg het plaasgevind in 1972 toe die nuwe skougronde, waar vandag nog geskou word, in gebruik geneem is. Die beste geriewe moontlik is geskep met ‘n pragtig uitgelegde skoukompleks. Die hele gemeenskap van Moorreesburg het van toeka tot nou saamgespan en saamgewerk om jaarliks te bou aan die sukses van die skou. Die mans en dames-besture het amalgameer en onder een bestuur begin funksioneer. Daar is vir die eerste keer ‘n amptelike damesbestuur met voorsitter gekies wat sitting, insae en insette in die mansafdeling kon lewer, en omgekeerd. Die damesafdeling het goed finansieel bygedra tot die skou se inkomste. Tradisies soos geurige kosse waarvoor die skou bekend is, is voortgesit. Dit word vandag nog deur die damesbestuur aangebied in 4 verskillende lokale om almal se sak en smaak te pas.

‘n Jonger generasie het oorgeneem en die skou het uitgebrei in alle fasette tot een van die grootste landbou- en landboumasjinerie platteland se skoue in die Suid- en Wes-Kaap. In die vee-afdelings is begin met die aanbied van kampioenskappe waardeur getalle en kwaliteit verbeter is. Vandag kan Swartlandskou spog met talle SA Nasionale kampioenskappe wat aangebied word en met enige ander groot skou kan kompeteer. Veeveilings en karkaskompetisies is ‘n geweldige sukses.

Die aanbied van ‘n SKOG-dag, die Damesdag, skooloptredes en stalletjies is ‘n geweldige groot aanwins wat impakteer op die algehele bywoningstal van die skou. Dit is met groot dankbaarheid dat ons kan gadeslaan hoe die skoujaarliks groei en ‘n groot geleentheid is vir die gemeenskap, wat in alle opsigte hul volle samewerking gee.

Ons eer diegene wat die grondslag van Swartlandskou Moorreesburg gelê het en hierdie uitsonderlike tradisie in die Swartland laat voortleef het en aan die nageslag oordra.

C Koch.